fbpx
Skip to content Skip to footer

Hier volg belangrike gegewens oor die Koinonia Sinode (KS) wat deurgegee word aan al die dolerende en ander behoudende gemeentes in die NG Kerk.

POSISIONERING VAN DIE KS:

  • Beplan KS ‘n skeuring? Alhoewel Kairos Netwerk (KN) dikwels beskuldig word daarvan dat hulle hulle beywer vir kerkskeuring, wil KN dié beskuldigings verwerp as totaal ongegrond en selfs kwaadwillig. Inteendeel, KN wil met die KS juis ‘n geestelike tuiste bied vir diegene wat nog deel van die NG kerk wil bly, maar wat bekommerd is oor die grootskaalse miskenning van die Skrif en die belydenisse binne die kerk en hulle daarom beywer vir totale reformasie in die NG Kerk.
  • Vervang die KS bestaande sinodes? Die KS wil nie die Algemene Sinode (AS) of enige streeksinode vervang nie, maar wil behoudendes toerus om positiewe invloed uit te oefen om die AS sowel as die streeksinodes en kerkrade deur hulle getuienisse terug te roep na die erkenning van die gesag van die Bybel as Woord van God en die verstaan van die Bybel soos dit vertolk word in die gereformeerde belydenisse.
  • Is KS dan ‘n elfde sinode? Die KS is nie ’n elfde sinode van die AS nie, en vervang nie een van die bestaande sinodes nie. Die KS is ‘n kategoriale sinode van NG gemeentes en lidmate van oor die hele land en Namibië wat dieselfde Skrifuitleg en Teologiese beskouing huldig.

DEELNEMERS AAN KS:

  • Hoe werk Intrede en Uittrede uit Koinonia Sinode? KS sinode is nie ‘n klub waarby jy aansluit of uit bedank nie. Dit is ‘n vergadering waaraan ‘n gemeente deel het deur hulle afgevaardigdes wat met hul volmag namens die gemeente praat en stem. Gemeentes wat afgevaardigdes stuur is deel van die vergadering en dus medeverantwoordelik vir die besluite wat daar geneem word.
    • As ‘n gemeente besluit om nie afgevaardigdes te stuur nie, is hulle nie deel van die sinode nie. Daar is geen permanente “lede” van die KS nie.
    • Die spesifieke sinode ontbind na sy vergadering, maar die werk gaan voort in een of meer taakspanne wat na afloop van die vergadering moet toesien dat die vergadering se besluite uitgevoer word.
    • KS kan (en sal waarskynlik) dikwels vergader, maar na elke vergadering ontbind KS en met elke volgende vergadering is daar ‘n nuwe afvaardiging. Elke keer wat die gemeentes saam vergader, is die spesifieke afvaardiging dus eenmalig. Daar kan en sal baie KS byeenkomste met telkens nuut-saamgestelde afvaardigings wees.
  • Wie vorm ‘n afvaardiging? Die KS word beplan as ’n amptelike vergadering wat konstitueer met afgevaardigdes van NG kerke wat getrou is aan die Bybel en ons gereformeerde belydenisse, en wat hul kerkraad met ‘n geldige geloofsbrief verteenwoordig.
  • Word waarnemers toegelaat? Besoekers wat die atmosfeer, die heiligheid en orde-reëlings van hierdie vergadering respekteer, is welkom as waarnemers.  Slegs lede van die vergadering ontvang agendas, kry spreekbeurte, verversings ens.

PROSEDURES VAN DIE KS:

  • Aan wie word die agenda van die KS versprei? Die agenda en verslae sal elektronies aan alle gemeentes versprei word wat hulle geloofsbriewe voor 24 April ingestuur het.
  • Wie is stemgeregtig tydens die KS? Die voorgestelde reglement maak voorsiening vir:
    • ‘n Maksimum van 4 afgevaardigdes per gemeente wat hul wettige geloofsbriewe persoonlik by registrasie voor die konstituering van die KS ingehandig het.
    • ‘n Maksimum van 6 kundiges wat deur KNSWG benoem is en deur die vergadering goedgekeur is.
    • ‘n Maksimum van 6 waarnemers wat deur KNSWG benoem is en deur die vergadering goedgekeur is.
  • Wie kry spreekbeurte tydens die KS? Alle stemgeregtigdes wie se geloofsbriewe by konstituering ontvang en aanvaar is.
  • Hoe word besluite tydens die KS geneem? Meeste besluite word geneem deurdat die vergadering stem oor die aanbevelings wat in die verslae voorkom. Indien verdere voorstelle, of amendemente wat voorstelle wysig, op kerkorderlike wyse van die vloer af ingedien word, stem die vergadering ook daaroor.
  • Wie bepaal die pad vorentoe? Afgevaardigdes bepaal die pad vorentoe – nie aanbieders / professore nie – besluite word deur die vergadering geneem. Alle besluite word geneem by wyse van konsensus, of indien daar oor ‘n voorstel gestem word, die meerderheidstem van stemgeregtigdes wat teenwoordig is.

HOE SIEN KN/KS DIE PAD VORENTOE?:

  • Besluit i.t.v. Artikel 37 van die Kerkorde? KN wil steeds al die streeksinodes wat kan, soos bv. Vrystaat, Namibië, Goudland en Oostelike Sinode aanmoedig en ondersteun om ‘n Art 37-besluit te neem. As een sinode ‘n Artikel 37-besluit neem, kan dit uitkoms bied vir alle behoudende gemeentes om steeds NG Kerk te bly, maar vry te kom van die liberale pad van die AS.
  • Voorlegging aan die Algemene Sinode 2023? Die KS wil gemeentes lei en inspireer om deur alle oorblywende en moontlike kerklike kanale ’n voorlegging (beskrywingspunt) te doen aan die AS in sitting in Oktober 2023.
  • Verhouding tussen Kairos Netwerk (KN) en Koinonia Sinode(KS)? Ons visie is dat KS geleidelik meer op die voorgrond sal tree om die reformasie deur amptelike kerkvergaderings te bevorder en dat KN geleidelik meer sal fokus op ondersteuning, toerusting en advies vir KS.
  • Wat is die verhouding met ander gereformeerde kerke? KS is en bly ‘n vergadering van behoudende NG Kerke wat in ons getuienis na buite ook wil uitreik om die ekumeniese bande met ander behoudende kerke nasionaal en internasionaal te versterk. KS wil so as amptelike vergadering van NG kerke voortbou op die ekumeniese bande wat KN reeds begin het.

Kairos Netwerk © 2025. Alle regte voorbehou